Daar is min te kies tussen watter keuse die belangrikste is. Waarmee jy wil boer of waar jy gaan boer?
Een van die grootste waarhede is die volgende: “’n Plaas maak ‘n boer en nie ‘n boer ‘n plaas nie.”
Party van ons is geweldig geseënd en was gebore op ‘n “goeie” plaas.
Daar is sekere plase wat vir etlike geslagte deur dieselfde familie besit word, ander kom elke paar jaar in die mark.
Dit gaan maar oor die beginsel dat mens nie jou beste melkkoei slag nie. Goeie plase produseer vir hulle eienaars en swak plase elimineer hulle eienaars.
Waar het dit my gelaat in my besluit? Ek wou die skaapbedryf betreë met net 100ha.
En onthou, ek wil kan skaal na 55,000 ooie. So wat ek ookal besluit moet my doelwit kan akkommodeer.
Weereens moes ek maar ‘n studie doen. Hierdie keer was dit somme.
Ek het Excel nader getrek en ‘n finansiële vergelyking begin doen tussen:
KOOP VAN GROND, HUUR VAN GROND OF BLY BOER OP DIE 100HA
As mens grond koop, kan jy dit doen of met jou eie geld of met die bank se geld. Indien jy jou eie geld aanwend vir grond, verbeur jy ander beleggingsgeleenthede en daai verbeuring noem mens “geleentheidskoste”. DWS selfs jou eie geld kos geld. Indien jy die bank se geld gebruik betaal jy rente. Ons is nou in ‘n hoë rentekoers siklus so ek het my somme gedoen teen ‘n koers van 13.25% per jaar. Onthou, elke ou se som gaan anders wees. So daar is nie ‘n regte of ‘n verkeerde som nie.
Druk gerus op hierdie skakel en kyk hoe ek my vergelykende somme gedoen het
Uit die som t.o.v. van grond koop is daar geen manier hoe my opbrengs op skaap winsgewend kan wees. Ek gaan ook nie kan skaal, want as daar nie grond beskikbaar is, dan is daar nie. En die enigste boergrond wat mens met gerustheid kan koop is uit ‘n bestorwe boedel met geen erfgename. Niemand verkoop ‘n goeie plaas.
Die huur som lyk finansieël heelwat beter, maar dit kom met baie uitdagings. In my opinie is die enigste goeie huurgrond slegs grond wat te huur is aangrensend tot jou bestaande plaas. Enige grond ver van jou hou te veel risikos in.
Die opsie wat vir my sin gemaak het, was die intensiewe opsie, maar, en dis ‘n GROOT MAARwant dit het ‘n paar kardinale hekkies wat oorkom moet word om suksesvol te kan wees. Ek lys hulle:
- Voerkoste
- Speenpersentasie
- Afsetpryse
Die lank en die kort is dat daar in ons beplanning geen ruimte kon wees vir middelmanne in die waardeketting. Ons plan na 55,000 ooie kan net realiseer as ons goedkoper kan voer, hoë produksie kan kry per ooi en die totale waardeketting self kan benut.
Volgende week sal ek begin handel met die eerste van die 3 hekkies wat ek hierbo gelys het.
Groete
Pieter