Voerkoste is die maak of breek van enige skaapboerdery! Sonder kos kan ooie nie produseer nie, maar dit kom teen ‘n prys!
Natuurlik wat sy eet is direk afhanklik van of sy ekstensief, intensief of semi-intensief geboer word.
Ons het ons keuse gemaak. Alhoewel heelwat van ons ooie tans nog op huurgrond loop en slegs by LANDRANI® kom lam, is ons plan om gedurende die volgende 12-maande al ons ooie permanent by LANDRANI® te huisves. Dit gaan die enigste manier wees hoe ons vorentoe gaan kan skaal.
Om dit te doen moet ons hulle goedkoper kan voer, wat juis die tema van vandag se “Storie” is.
Wat jaag voerkostes op:
- Waardeketting en vervoer
- Onakkurate voeding
- Vermorsing en vetrapping
- Wisselvalligheid van beskikbaarheid van roumateriale
Voedingsrisikos:
- Onvoldoende nutriënte
- Onvoldoende volume
- Ongelykmatige inname
- Swak kwaliteit
- Vergiftiging (Ureum)
Ons strategie:
- Presisievoeding
- Zero vermorsing
- Korrekte nutriente per produksie-/groeifase
- Nutriënt verryking van goedkoper roumateriale
Ons oplossing:
- Geoutomatiseerde “slim”-voerders
- Eie VoerBlok Voedingsisteem
- Verhoging van die Proteïne van Koringstrooi
Ons “slim” voerders, gekoppel aan wolkrekenaars, voer ons diere pille volgens hulle voedingsbehoeftes. Die stelsel monitor hoeveel elke groep eet en pas die voeding dienooreenkomstig aan. Hierdie outomatiese voerstelsel is ideaal vir groeiende diere soos jong ooie en ramlammers. Ons jong ooie beweeg deur verskeie krale, elk met ‘n geoutomatiseerde voerder, wat hul voeding aanpas soos hulle ouer word.
Die voeding van volwasse ooie is egter meer uitdagend. Hul daaglikse voerbehoeftes is minder, en die gebruik van pille kan probleme veroorsaak aangesien sommige diere vinniger eet as ander.
Na baie navorsing het ek ‘n stelsel ontwikkel wat ruvoer blokke maak, wat ‘n meer gebalanseerde inname onder die ooie bevorder. Weereens maak ek gebruik van ‘n intelligente rekenaarstelsel gekoppel aan die “wolk”. Dit sisteem pas die samestelling en grootte van die VoerBlokke aan gebaseer op die aantal ooie in ‘n kraal en hul spesifieke voedingsfase.
Verder het hierdie proses gelei tot die verbetering van die voedingswaarde van ruvoer deur ‘n proses waar urease ureum hidroliseer na ammoniak en koolstofdioksied, wat die dier se metabolisme dan gebruik om aminosure te sintetiseer. Deur hierdie proses kon ons koringstrooi se proteïeninhoud aansienlik verhoog, wat ons help om die ooie doeltreffender te voer. Ek heg onder die resultate aan waar ons koringstrooi se 4% proteïne verhoog na onderskeidelik 11.9%, 16% en 18.7%.
Die roumateriale vir al 3 hierdie uitslae is presies dieselfde. Al wat verskil het is die verhouding vog. Hoe meer vog hoe beter die hidrolise. Natuurlik bring vog sy eie uitdagings naamlik mikotoksiene (muf). Ons beperk dit deur om lug weg te hou asook die toedien van mikotoksien binders en natuurlike preserveermiddels.
Deur hierdie benadering te volg voer ons die ooie in hul droë en dragtige fases teen ‘n besparing van 30%, wat die som aansienlik beter laat lyk.
Klik hier om resultate te sien
Volgende week fokus ons op die tweede hekkie: Speenpersentasie
Groete
Pieter