Dit is belangrik dat ons nou en dan ons planne en strategieë toets. Gedurende die week vra my span hoekom ons nie ‘n klomp stoorlammers koop en voer. Toe besluit ek om vinnig gou weer ‘n sommetjie te maak oor die lewensvatbaarheid van stoorlammers inkoop teen R38 per kg, hulle af te rond en te lewer aan die mark teen R83 per kg.

My som was as volg:

Kosprys: R 38 x 28kg = R1,064
Ralgro: R15
Entstof en doserings: R35
Arbeid: R50
Infrastruktuur: R20
Skoonmaak: R10
Vervoer: R20
Kosprys sonder Voer: R1,214
Verkoopprys: 45kg x 46% x R83 = R1,718.10

Beskikbaar vir Voerkoste: R504.10

Voerkoste word uitgewerk as volg:
45kg – 28kg = 17kg
VOV = 5.1 (kan miskien laer wees)

@ R6500 per ton
17 x 5.1 x 6.50 = R563.55
Verlies op lam: R59.45

@ R5500 per ton
17 x 5.1 x 5.50 = R476.85
Wins op lam: R27.25

Bogenoemde berekeninge het die volgende kwelpunte:

  1. Al die diere gaan nie A2/A3 gradeer
  2. Daar gaan mortaliteite wees (Siektes, aanpassing, ens.)
  3. Uitslag persentasie gaan dalk nie gemiddeld 46% wees inaggenome 3% warm gewig aftrekking

Waar laat dit die boer teen hierdie pryse as die enigste mark die voerkraal of die abattoir is?

Indien jy weiding het en dit gereën het soos nou, sal dit dalk goed wees om jou lammers te “background”.  Kwaliteit van weiding en ras sal bepaal of lek gegee moet word. En natuurlik is die Meatmaster se leuse “Geld uit die Veld”. Dis nou meer belangrik as ooit.

Omdat ons huidiglik die Meatmaster ramlammers voer is A4 natuurlik vir ons ‘n groot gevaar. Vir ons lammers wat in die hoofstroom mark ingaan is dit “touch & go” om gelyk te breek op die lam in ‘n kraal. Wat ons wel agtergekom het, is dat ons A3/A4 skeidslyn redelik ouderdomsgedrewe is. Die oomblik as die Meatmaster lam in ‘n kraal ouer word as 4.5-maande is A4 gradering ‘n groot realiteit.

Ons het dus nou ons skaal geprogrameer om die lammers te selekteer op of 43.5kg of ouderdom 4-maande en 10-dae, wat ookal eerste kom. Dit verminder die waarskynlik van ‘n A4 gradering aansienlik tot amper nul.

In ons avontuur van limiete toets en alle opsies oorweeg, veral met ons kombinasie van ekstensiewe en intensiewe praktyke, asook die feit dat ons diere basies almal aangeteken is by Stamboek, begin ons nou ‘n hammelprojek in die Karoo. Hoekom hammels? As ons slag teen  maksimum ouderdom  4.5-maande is die mark gemaklik met ‘n ramlam. Daar is heelwat geluide wat gemaak word deur slagters indien ramlammers ouer is, veral hier by 7-maande rond waar hulle alreeds puberteit bereik het. Bestuur is ook makliker indien daar oop ooie in naby geleë kampe is.

Ons plan is as volg:

  1. In ons LamFabriek™ gebruik ons die Stamboek teelwaardes van die ouers om die lam se geskatte teelwaardes te bepaal. Enige eenling ramlam wat gebore word waar die geskatte teelwaardes onder ons verlangde teelram “benchmerk” val kry ‘n rekkie. Ons IntelliFarm™ RFID handtoestel sal outomaties vir die span aandui of die ramlam ‘n hammel moet wees of nie. Ons ramlammers volg ‘n ander roete Karoo toe na speen.
  2. Ooie van eenling hammels gaan so vroeg as ouderdom 14-dae terug Karoo toe. Ons sal nou ook die roofdiere begin trotseer, maar glo ons het genoeg planne om hierdie lammers redelik veilig te hou. Ons tweeling ooie bly vir eers agter op Landrani totdat ons weet wat ons verliese is op die weiding.
  3. Die weiding lammers word nie vroeg gespeen soos ons Landrani lammers nie, maar wel op 100-dae. Die ooie word dan weggevat vir onmiddelike herbesetting en die hammeltjies moet aangaan op hul eie.
  4. Soos altyd sal ons gedurig weeg om hulle prestasie te monitor, asook verliese te bepaal. Die mikpunt is om die presiese ouderdom te bepaal om maksimum gewig aan te sit op Karoo weiding en ook die A4-gevaar te vermy.

Prys en kostegewys is dit baie moeilik om tans lammers af te rond vir die hoofstroom mark. Ons LANDRANI® LAMB mark kan nog nie al ons lammers absorbeer nie, so ons maak dus nog steeds planne.

Ons LANDRANI® Meatmasters “toep” is vandag (Vrydag) na die onderskeie “App Stores” toe vir goedkeuring. Ons skop af met 171 kommersiële ooitjies ouderdomme 5-11 maande.

Almal dogters van:

  • CHIEF,
  • FAT JUDGE,
  • SHADOW,
  • PHANTOM (Word gekies as die Vaar ‘n kudderam was)

Meerling status van ooitjies  is as volg:

  • 69 tweeling ooitjies
  • 10 drieling ooitjies
  • 3 vierling ooitjies (al drie susters loop saam)

Hierdie ooie is almal veld aangepas op ons weiding in Loxton, Noord-Kaap. Vervoer sal gereël word eenkeer per maand op die hoofroetes.

Al is jy nie in die mark om te koop nie, glo ek dit sal interessant wees om te sien hoeveel detail ons van elke ooi beskikbaar maak.

Laai die LANDRANI® Meatmasters “toep” af:

App Store Google Play Store

Groete

Pieter

af