Van links na regs: Andrew Martinson, André en Wilmarie Moolman, Andre Martinson (Jnr), Theuns en Valerie Steenkamp, Pieter (voor), Freddie en Jaco Shreuder (agter), Lodie en Chriselle van Reenen, André Eksteen (agter), Zeiss en Monique Jordaan

Ek wil graag van die oomblik gebruik maak om 'n paar stukkies terugvoer van ons onlangse gaste tydens die Landrani® Ope-Naweek 8-10 Maart 2024 met julle te deel. Hierdie boodskappe lig die passie uit wat ons almal deel in skaapboerdery.

“Dit was ‘n onbeskryflike ervaring en ek beveel dit aan vir elke skaapboer. Pieter is passievol oor sy boerdery en het dit met ons gedeel. Sy personeel is ‘n groot boublok van die proses en word baie goed bemagtig. Die verblyf is beter as 5 ster. Baie dankie”

Andrew Martinson

“Wat ‘n ongelooflike naweek!!! Van pragtige akkomodasie, heerlike etes en ‘n baie informante Meatmaster inligtingsnaweek. Ons vertrek vanaf Landrani as vriende wat ons liefde vir die Meatmaster ras versterk het en sien uit daarna om van die kennis wat ons opgedoen het te implementeer en ons kudde uit te brei. Baie, baie dankie Pieter en span. Dit was ‘n naweek 1000!!”

Theuns & Valerie Steenkamp

“Landrani was vir ons ‘n ongelooflike ervaring gewees. Ons het geleer om op ‘n ander oogpunt na boerdery bedryf in vandag se lewe te kyk. Pieter het ons geleer en gewys waar daar ‘n wil is is daar ‘n weg. Droom groot, beplan en neem stap vir stap tot verandering en verbetering. Ons almal se omgewings, omstandighede en manier van boer verskil, daarom kan ons bymekaar leer en ook by inligting baatvind wat van pas is op jou eie boerdery. Hierdie naweek het ons aangespoor en weer nuwe hoop gegee. Pieter se energie, passie en dryf is aansteeklik. Baie dankie Pieter en Landrani span vir die geleentheid, al julle inligting en ervaring wat julle met ons gedeel het.”

André & Wilmarie Moolman

“Wil net sê baie dankie vir die ervaring. Die Here het Pieter oor ons pad gestuur op die regte tyd. Moet asb nie ophou met jou werk om mense weer hoop te gee nie. Sien uit na IntelliFarm te gebruik het alles in wat ek nog gesoek het in ‘n program om alles op plaas te bestuur op iets in plek te los vir volgende generasie oor te vat.”

Zeiss & Monique Jordaan

“Pieter, Baie dankie vir die voorreg dat jy jou Landrani konsep met ons gedeel het. Jy inspireer ons dat geen droom te groot is, maar dit moet geskied met akkurate, presisie beplanning. Ons vertrek met heel nuwe visie vir toekomsboerdery.”

Lodie & Chriselle van Reenen – Nova Barletta Dormers

“Pieter wat ‘n ongelooflike ervaring. Baie dankie dat ons kon kom kyk wat jy doen en jou positiwiteit beleef, dit gee mens moed om aan te gaan. Ek het baie lekker gebly, eet, gesels en geleer. Ek sien nou ‘n kans om te groei en ek het nou ‘n oplossing op my probleme. Ek verstom my om aan die hoeveelheid kennis wat jy het en dat jy bereid is om dit met ons te deel. Dankie dat jy ons oë oopgemaak het. Ek glo jy is ‘n bitter besige man en dankie dat jy ons die geleentheid gegee het om jou tyd in beslag te neem. Vrystaat groete”

Freddie en Jaco Schreuder

Van my kant af was dit net so fassinerend om al die waardevolle kennis en ervaringe te hoor wat elke boer met hom saamgebring het, en met ons almal gedeel het. Ek besef net weereens dat wanneer ons begin saamwerk, daar letterlik geen perke is aan wat ons saam kan bereik nie. Ons is sterker saam, en deur ons kennis en ervarings te deel, kan ons almal saam groei en ons bedryf vorentoe vat.

Ek hoop hierdie stories inspireer ieder en elk van julle net soos dit my geïnspireer het. As jy wonder oor wat 'n naweek by Landrani® vir jou kan inhou, kom vind uit. Dis meer as net 'n kursus; dit is 'n geleentheid om te groei, te leer en deel te wees van 'n gemeenskap wat saam streef na beter.

Hoop om sommige van julle hier te sien vir die volgende groot avontuur!

Ons het nog twee plekke beskikbaar die naweek wat nou kom 15 – 17 Maart 2024. Dis nou wel nie die ope-naweek nie, maar gaan in meer diepte ingaan in die IntelliFarm™ sagteware. Ek doen dieselfde oorsig van die hele konsep wat hopelik net so waardevol gaan wees soos vir die ope-naweek gaste.

Druk gerus hierdie skakel vir meer inligting en om te bespreek

Groete

Pieter

afAFR