Die nommer een uitdaging wat meeste van ons in Suid-Afrika het, is die volhoubare beskikbaarheid van krag afkomstig van elektrisiteit. Krag en elektrisiteit is twee verskillende konsepte, alhoewel ons daarna verwys as dieselfde.

Elektrisiteit (die vloei van lading) verskaf die energie wat omgeskakel kan word in krag vir verskeie toepassings.

Krag is dus ‘n universele konsep wat die dryfveer is agter verandering.

Wanneer hierdie dryfveer optimaal benut word gebeur ongelooflike dinge. Ek wil julle gou vertel van Noorweë, een van die rykste lande ter wêreld. Noorweë besit die Noorse Staatsbeleggingsfonds wat tans US$1.62 triljoen sterk is. Noorweë is ook een van die waterrykste lande ter wêreld en het in 1895 hul eerste hidroëlektriese kragstasie gebou. Sedertdien is hulle die grootste uitvoerder van elektrisiteit wêreldwyd. In die laat 1960’s het Noorweë olie en gas ontdek in die Noordsee. Omdat hulle reeds ‘n skatryk land was het hulle die vermoë gehad om ongekende hulpbronne beskikbaar te stel vir die verdere ontdekking en ontwikkeling van hul olie en gas velde. Indien Noorweë vandag hulle Staatsbeleggingfonds sou verdeel tussen die 5,5 miljoen landsburgers sal elkeen R5.5m in sy sak steek.

Noorweë het die hulpbronne tot hul beskikking optimaal ontwikkel.

In terme van ‘n boerdery, of enige besigheid, is dit die eienaar wat die dryfveer is vir die sukses van die onderneming. Dis dus die eienaar se “krag” wat nodig is om daagliks verandering en vooruitgang te bewerkstellig. Maar die eienaar word omring deur menslike hulpbronne wat indien korrek ontwikkel en bemagtig word, van onskatbare waarde kan wees.

Daar word gesê dat indien mens ‘n lang genoeg paal het, mens die aarde uit sy wentelbaan kan lig. Die beginsel is “hefboom”. Wanneer ons krag en hefboom kombineer kry mens “krag²” en ek wil sover gaan om Noorweë krediet te gee omdat hulle krag en hefboom gekombineer het en 1,769 hidroëlektriese kragstasies gebou het sedert 1895 tot nou. En vandag is elke burger daar ‘n rand Miljoenêr x 5.

John Maxwell het ‘n stelling gemaak wat my uitkyk na mense, projekte en die toekoms 25-jaar gelede drasties verander het. Hy het die volgende gesê: “Die sukses van ‘n onderneming kan slegs gemeet word die oomblik nadat jy die leier verwyder het”.

Ek is dus altyd op soek na mense wat die potensiaal toon om bemagtig te word, sodat ek self nie meer ‘n “job” het nie. Iemand moet altyd ‘n geleentheid kry om my uit die saal te lig in my eie onderneming. En slegs dan onwikkel ek die krag, gekombineer met hefboom, om verskeie ondernemings te bou waarvan die sukses nie afhanklik is van my persoonlike betrokkenheid nie. Wanneer dit gebeur kry ons “Krag² weens Bemagtiging”.

Die eienaar is die “krag” en die menslike hulpbronne is die “hefboom”.

Die metode wat ek nog altyd implementeer is die ontwikkeling van rekenaarstelsels waarin ek my eie denke, prosesse en manier van dinge doen in programmeer om sodoende my opvolgers te bemagtig om dinge net soos ek, of selfs beter as ek te kan doen. My nuutste bemagtigingsprojek is om “my seleksie besluite” te rekenariseer sodat ek die stokkie van teling kan oorhandig aan ‘n opvolger.

Teling Seleksie

Noudat ons aangetekende kudde 2400 ooie sterk is glo ek ons het genoeg data om 70-80 persent van die teelbesluite oor te laat aan die IntelliFarm™ stelsel. Daar sal egter altyd ‘n fenotipe komponent wees maar ek beperk dit net tot die onderste seleksie groep.

Die stelsel evalueer elke ooi in die kudde en gee haar ‘n rangorde selfde as tennis- en golfspelers. Hieronder is die data elemente wat ons gebruik vir hierdie outomatiese seleksie keuses:

  1. Stamboek status (B,C&SP)
  2. Stamboek teelwaardes (EBV’s)
  3. Bou en tipe “Score” uit 10
  4. Lam- tot dekverhouding
  5. Kleur
  6. Gemiddelde 60-dae speengewig van lammers
  7. Totale kg lam geproduseer per dekking

Boonste data word in konteks en volgens “gewigte van belangrikheid” deur die stelsel toegepas.

Ons glo dat ons met bogenoemde seleksie strategie by ons teeldoelwitte gaan uitkom eerder vroeër as later.

Rooibruin ooie wat almal ten minste een lam per dekking lewer en almal ten minste 20kg lammers speen op 60-dae.

Die harde realiteit van ons seleksie metode is dat ons deurlopend goeie Aanhangsel A ooie wat nie ons persoonlike “vanilla” kleur is, gaan uithaal.

Sodra al die Aanhangsel A ooie uitgehaal is, sal ons oorbeweeg na die Aanhangsel B ooie. En so oor tyd is ons genoodsaak om konstant goeie ooie te verkoop aan kopers wat nie stoet met ‘n strewe na SP ooie.

Ons hou julle op hoogte van hoe hierdie strategie vir ons werk.

Groete

Pieter  

afAFR