Meeste van die ooie wat ons aanvanklik gekoop het was rooibruin van kleur en dit was vir my geweldig sag op die oog. Soos ons almal weet, mooi vergaan maar deug bly staan.
Ek het toe begin met ń indiepte studie van die Meatmaster ras en inligting versamel en nagevors by groot geeste in die bedryf. Clynton Collett en Dr’s Johan, Fanie en Thomas Steyn het ń groot bydrae gelewer in my studie.
Op ń ander geleentheid het Manie en Karin Wessels my voorgestel aan die INRA 401 skaap. Die INRA 401 is ń kruising tussen die Berrichon du Cher en die Romanov. Laasgenoemde lam meestal meerlinge en is dekgereed reeds op so jonk as 4-maande. Die Romanov is nie seisoenaal nie en kan gepaar word enige tyd van die jaar.
Die INRA 401 is dus ń hoogs produserende ooi, met ’n 200 persent lampersentasie, uitstekende buiteseisoen vrugbaarheid, goeie melkproduksie, en uitstaande moedereienskappe.
Alhoewel die INRA 401 of Romanov nie verkrygbaar is in Suid-Afrika is hul eienskappe ń goeie riglyn om te gebruik as maatstaf vir die beoordeling van plaaslike opsies.
Gegewe al hierdie inligting tot my beskikking moes ek besluit of die Meatmaster gaan voldoen aan my vereistes om my doelwit van 55,000 ooie te behaal.
Uit my navorsing van die Meatmaster was die volgende duidelik:
- Meatmaster kan enige tyd van die jaar suksesvol gepaar word
- Meatmaster ooitjies is geslagsryp op ouderdom 7-maande en kan dan gedek word
- Met optimale voeding, laparoskopie en aggressiewe seleksie klim die persentasie meerlinge redelik vinnig na 150% per siklus
- Meatmaster se vloeiende toplyn en bietjie laer kruis maak dat sy makliker lam, dws minder mortaliteite by geboorte
- Meatmaster het geweldige goeie moerdereienskappe
- Ooie is baie vrugbaar en baarmoeders herstel vinnig vir herbesetting in ń versnelde lamsiklus van 8-maande.
So met ń 150% lampersentasie asook die vermoë om volhoubaar elke 8-maande te lam het my som uitgewerk op ń potensiële lampersentasie van 225% per jaar.
Natuurlik op daai stadium was alles nog teoreties van aard.
Albert Einstein het die beginsel van kumulatiewe rente gedoop as die 8ste Wonder van die Wêreld. Die beginsel het te doen met die belegging van aanvanklike kapitaal, die herbelegging van die rente en die voordeel met verloop van tyd.
Ek het die volgende hipotetiese model gebou gebaseer op die beginsel van kumulatiewe rente:
As ek met ń 100 ooie begin en tel tot die eerste 100 hulle leeftyd voltooi het (7-jaar), en ek gebruik laparoskopie en vroulik geseksde semen.
Hoeveel ooie sal ek hê na 7-jaar?
Ek het aanvaar dat meerlinge opmaak vir laer besetting. So ek ignoreer albei en werk op 1 ooi = 1 lam.
- Merino 12 maande program: Dek jong ooie op 12-maande = 2200 ooie
- Meatmaster 8 maande program: Dek jong ooie op 7-maande = 4300 ooie
Hieruit het ek my antwoord gekry en besluit dat die Meatmaster die regte ras is vir my.
Volgende week hanteer ons die 2de vraag waarop ek ń antwoord moes kry - Waar en hoe gaan ek al hierdie ooie aanhou?
Kyk gerus na hierdie skakel vir ń baie gedetaileerde opsomming van wat die Meatmaster ras so spesiaal maak: https://landrani.com/afr/die-meatmaster-ras/