Ons stel bekend ‘n nuwe revolusionêre konsep wat enige persoon nou instaat sal stel om te kan begin boer. Instede van om ons Meatmaster ooie slegs te bemark aan mede-boere, kan stadsjapies in die nabye toekoms ook op ons LANDRANI® Meatmaster “Toep” ‘n ooi koop. By “Checkout” word die FarmShare™ opsie gekies waar die koper IntelliFarm™ versoek om die ooi namens hom/haar te bestuur. Slegs Stamboek aangetekende ooie sal beskikbaar wees vir die FarmShare™ opsie. Ooie sal gedek word deur stoetramme en opgevolg word deur Dormer ramme, wat beteken kruislammers kan ook geproduseer word.

Hoekom sal enigiemand dit wil doen? Ek weet nie! Hoekom doen ek en jy dit?

Ek dink ons Suid-Afrikaners is ‘n unieke spesie. Meeste van ons het of Hollandse, Franse of suiwer Afrika bloed en dit maak ons seevaarders en boere in ons harte. Ek vermoed dis juis die rede hoekom almal twee goed begeer:

  1. ‘n Huisie by die see
  2. Stukkie grond waarop mens kan woel, werskaf en diere versorg

Die volgende gaan van toepassing wees:

Koper sal die volgende opsies hê ten opsigte van die ooi se lamproduksie:

  • Ramlammers kan opgesny en verpak word deur LANDRANI® LAMB vir aflewering en tuis verbruik
  • Ramlammers kan verruil word vir ‘n LANDRANI® LAMB geskenkbewys, wat aangewend kan word vir ‘n kombinasie van lam snitte en/of kits-maaltye
  • Ramlammers wat potensiaal toon kan by ons teelram groep in Loxton aansluit vir toekomstige bemarking
  • Ooilammers kan of benut word soos ramlammers hierbo of te koop aangebied word op die LANDRANI® Meatmasters “Toep”.

Termes en Voorwaardes sal geld

Afhangende van die ooi se produksiefase sal sy haarself bevind in Loxton, Richmond of LANDRANI®.

Koper laai IntelliFarm™ “Toep” af waar die volgende inligting van sy ooi beskikbaar is:

  • Waar sy haarself tans bevind
  • Entstof of doserings
  • Gewigsgeskiedenis
  • Dekkings
  • Dragtigheidskanderings
  • Verwagte Lamdatum
  • Byvoedings of Ruvoer (IntelliFarm™ Voerblok)
  • Stamboek besonderhede
  • Nageslag
  • En nog meer…

Om dit meer opwinded te maak kombineer ons die konsep met LANDRANI® FarmStayEienaars van ooie sal ‘n kennisgewing kry die oomblik wanneer ‘n ooi dragtig geskandeer word met die verwagte lamdatum asook beskikbaarheid van akkomodasie in daai tydperk. Die virtuele boer kan dan sy gesin na LANDRANI® vat vir ‘n wegbreek en ook werklik boer. Hulle kan selfs deelneem aan die daaglikse boerdery-aktiwiteite op LANDRANI®.

Natuurlik is daar heelwat ander detail wat ons sal aanspreek soos bv. kry die virtuele boer alle aanwas, of slegs een lam per jaar. Wat gebeur as die ooi vrek of oud word. Ons het planne om al hierdie aspekte aan te spreek sodat die virtuele boer slegs die lekker deel van boerdery ervaar.

Finansies:

  • Koper moet natuurlik die ooi koop teen die gelyste prys.
  • Koper betaal IntelliFarm™ ‘n maandelikse bestuursfooi.
  • Koper betaal vir weiding asook alle dieremiddels, byvoedings, ens.
  • Daar sal vereistes wees vir droogtehulp vanaf die virtuele boer indien nodig.

Hierdie is maar net ‘n paar voorbeelde van hoe dinge sal werk. Ons stelsels is geïntegreer so alle onkoste van toepassing op die ooi sal verskyn op die eienaar se “wallet”-rekening op die LANDRANI® LAMB “Toep”.

Ons is in ‘n finale stadium om die konsep te formaliseer en behoort binne die volgende 3-maande dit bekend te stel aan die groter publiek daar buite.

Ter afsluiting:

Ons wil graag hê dat die hoofdoel van hierdie virtuele boerdery die ervaring asook kwaliteit lamsvleis moet wees. Dus gaan ons elke koper beperk tot ‘n maksimum van slegs 5 ooie. Die oomblik as iemand meer ooie besit gaan hy of sy saam met ons wakker lê oor die droogtes en die roofdiere en dan is die lekker weg.

Ek hou julle op hoogte soos ons vorder.

Groete

Pieter