"Innovasie is die vermoë om verandering te sien as ’n geleentheid, nie ’n bedreiging..."

Steve Jobs

As ons eerlik is dan was die laaste 10-jaar in skaapboerdery nie maklik. Eers ’n 7-jaar droogte en skaars 18-maande daarna is ons weer in ’n ander tipe droogte. ’n Prysdroogte asook ’n droogte weens politieke onsekerheid. Die vraag wat op almal se lippe hang is hoe die ANC gaan vaar 29 Mei. Want al die moontlike uitkomste gaan verandering teweegbring. Wat ons nie weet is hoeveel daarvan goed of sleg gaan wees.

Wat ek wel weet is hoe verandering relevant was in ons reis met die Meatmasters van begin tot nou. Ons navorsing en ontwikkeling gaan ek opdeel in 3-fases.

Fase 1

Hier het ons weggetrek en weens verskeie faktore is daar besluit om 100% intensief te boer. Tydens Fase 1 het ons 34 groepe gehad van 12 ooie elk.

Elke week het die volgende gebeur:

  1. 12 ooie gespons, ontrek en DMS gespuit
  2. 12 ooie vaginaal ge-KI deur onsself
  3. 12 ooie opgevolg met ander ramme
  4. 12 ooie ge-“scan” vir dragtigheid deur onsself

So het die proses geroteer met 34-weke gelykstaande aan ’n 8-maande lamsiklus. Hierdie proses was uiters suksesvol met ‘n gemiddelde besetting van 98%. Dit was die absolute uitsondering vir ’n ooi om nie dragtig te wees 8-weke na aanvanklike dekking.

Fase 2

Hierdie fase was geskoei op ’n geleentheid wat ons gekry het by ’n boer in Richmond om ons ooie na speen na hom toe te vat en hulle daar in die veld dragtig te maak d.m.v. laparoskopie. Die siklus was aanvanklik ook 8-maande maar dit het moeilik geraak om die meerling ooie se lammers betyds te speen en die ooie betyds reg te kry vir herbesetting. Ons het die proses toe verander na ’n 9-maande siklus. In terme van hierdie strategie het ons 1-linge gespeen op 45-dae, 2-linge op 60-dae en 3-linge op 75-dae. Ooie is letterlik na Landrani vervoer vanaf Richmond 3-dae voor die eerstes begin lam. Ons het dit baie fyn gesny. Binne ’n week of twee na speen is die ooie weer vervoer na Richmond. Uiteraard het die vervoer ons heelwat gekos, maar in ons strewe om 2400 stoet ooie te teel het ons die koste geabsorbeer. Die gemiddelde tyd wat ons ooie gevoer het was 10-weke. Ooie by Landrani kry voerblokke wat beteken hulle bly op ruvoer totdat hulle teruggaan na die Karoo.

Fase 3

Nou dat ons die doelwit van 2400 geregistreerde ooie bereik het, is ons genoodsaak om weer baie mooi te kyk na die mark en ons produksie kostestruktuur. Aanvanklik is ons verwagte winste bereken op die “MOET” verkoop van meestal premie diere. Premie diere is ’n slaglam teen Woolworths pryse of ’n ooilam teen haar intrensieke waarde (d.w.s. dit wat sy werd is). Die “prysdroogte” affekteer nie net die stoorlam of slaglam prys maar letterlik alle aspekte van die waardeketting. As dit reën en die lampryse is hoog dan koop die boere skaap en daar is hoop. Nou reën dit, maar die pryse is onder druk, en om dit meer interessant te maak het ons ook ’n verkiesing wat voorlê. Mens kan dus verstaan dat baie boere nou die “wag en kyk” benadering volg. Ten opsigte van vars vleis is daar sekere slaghuise wat lam adverteer teen so laag as R109/kg ingesluit BTW.

Maar waartoe lei al hierdie verandering in bekostigbaarheid en sentiment?

Vir my lei dit tot ’n verdere uitdaging! Ek het nou myself uitgedaag tot ‘n 100% ekstensiewe proef met die absolute minimum insetkoste. 3 Mei het ons 53 ramme ingejaag by ’n groep van 432 ooie. Ons het hulle gespons, maar nie DMS gespuit. Ons wil hê dat meeste ooie binne ’n kort tyd moet lam sodat die impak van roofdiere beperk word, altans so hoop ons.

Daar is ook twee tegnologiese hulpmiddels wat ons gaan inspan. Ek gaan julle eersdaags vertel van ons onbemande hommeltuig wat verskeie kere in die nag gaan patrolleer by die lammerooie asook ons “Bluetooth” halsband projek wat ons glo die ooie en die lammers aanmekaar gaan koppel. Alhoewel ons op hierdie groep ooie nie spesifieke stoet dekkings gedoen het, word die ooie nog steeds gemeet vir Stamboek data. Die lammers kan nie geregistreer word, maar die lam se syfers word nog steeds aangeteken by die ooi. So dit bly van kardinale belang om ooie en lammers aanmekaar te koppel en prestasie te bly meet. In Fase 3 gaan ons die lammers speen in die veld op 100-dae en hammels gaan oorgaan in ons hammelprojek tot en met slaggewig direk vanaf die veld.

Ons finale mikpunt vir Fase 3? Om ons stoet ooie in produksie te hou en steeds winsgewend te wees teen die huidige pryse. Beide met slaglammers asook met kommersiële ooilammers. Indien ons hierdie goed regkry bou ons die platform om meer winsgewend te wees in die toekoms. Ons gene fabriek se konstruksie is amper klaar en sodra die mark weer optel skuif ons 800 van ons top ooie terug na Landrani vir maksimum genetiese verbetering in die stoet.

Ek hou julle op hoogte soos ons vorder.

Groete

Pieter 👋

afAFR