Laasweek het ek liggies geraak aan die feit dat ek die BLUB kursus bygewoon het by Hermon hier in die Weskaap. Natuurlik het die hele ervaring my aan die dink gesit en hieronder is ‘n lys van die belangrikste “wegneem punte”.

  1. Hê duidelike teeldoelwitte
  2. Gebruik altyd ‘n ram met beter syfers as ‘n ooi, sodat haar dogter se genetiese potensiaal beter is as haar eie
  3. Elke ooi in die kudde moet ten minste elke jaar lam. Die interlam periode moet korter wees as 365-dae
  4. Probeer maksimum genetiese verbetering bewerkstellig met elke dekking
  5. Bestuur inteling
  6. Weeg gedurig en teken deurlopend aan. Hoe meer swak diere Logix identifiseer hoe beter syfers kry die res van die kudde

Natuurlik is om te voldoen aan al hierdie punte die absolute ideaal en kan mens slegs daarna strewe. Iemand sê onlangs vir my dat ‘n plan sonder ‘n strategie niks beteken. Ek moes beide ‘n plan maak en ‘n strategie rondom hierdie ontwikkel.

Die uitdaging is om bogenoemde beginsels “slaafs” toe te pas op 2400 ooie sonder dat die pap op die grond val.

Met IntelliFarm™ het ons reeds die weeg en die aanteken bemeester, maar om die genetika te bestuur in terme van punte 2-5 is ‘n perd van ‘n ander kleur. Ons teeldoelwit was van die begin om lang rooibruin ooie te teel en vandag is meeste van ons geteelde diere rooibruin en grotendeels met ‘n goeie “lengte van lyf”. Maar ons Stamboek syfers kort baie werk, grotendeels weens ooie wat in die kudde ingekeur is en die tyd wat dit ons gevat het om ons voete te vind in die wêreld van stoet.

Weereens is dit vir my nodig om die hulp van tegnologie in te span.

DIE PLAN

Ek en my span het die “Optimale Teelstrategie Verslag”ontwikkel. Hierdie verslag bied ons die volgende:

  1. Lys van beste moontlike dekkings tussen ‘n groep ooie en beskikbare ramme om genetiese vooruitgang te bewerkstellig in terme van Stamboek se Groei en Reproduksie Indekse.
  2. Lys van ooie waar enige kombinasie van dekkings met beskikbare ramme sal lei tot inteling bokant 6.25%. Hierdie is Stamboek se maksimum aanvaarbare intelingskoëffisient.
  3. Lys van ooie waar daar geneties agteruit geboer gaan word indien huidige beskikbare ramme gebruik word.
  4. Die gemiddelde genetiese verbetering in teelwaardes tussen huidige en volgende geslag
  5. Die vermeerdering of vermindering van die intelingskoëffisient tussen huidige en volgende geslag
  6. Direkte toegang na Datamars Tru-Test XRS2 om ooie elektronies te selekteer in die veld.

DIE STRATEGIE

By LANDRANI® Meatmasters het ons reeds die nodige infrastruktuur vir die geboortes en uitgroei van ons lammers. Ons noem dit die LamFabriek™ en GroeiFabriek™. Vir die res van ons produksie gebruik ons Karoo-veld.

Ons ooie is nou in ‘n 9-maande siklus wat beteken ons moet elke 6-weke tussen 400-450 ooie dek. Ons het nie die hoeveelheid bruikbare ramme asook die kampe om dit natuurlik te doen nie, en dis hoekom ons laparoskopie. Maar, wat gemaak met die ooie wat nie vat na sinchronisasie, is dit die ooi se skuld dat ons die natuurlike proses manupileer? Ons moet haar dus addisioneel tot laparoskopie ‘n regverdige kans gee om ‘n lam te kan lewer binne 365-dae sedert haar vorige lam. En hoe hanteer ons die ooie wat beter syfers het as die ramme wat ons self besit en/of indien sekere dekkings ons intelingsdoelwit sou oorskry?

En dit lei toe tot die tot standkoming van die Gene Fabriek. ‘n Hortjiesvloer fasiliteit waar ons ooie in klein kampies by ramme kan sit en klein groepies ooie van tyd tot tyd kan KI met saad beter as wat ons self besit. Die Karoo veld is dus waar ons die genetika verbeter met die haelgeweer en die Gene Fabriek is waar ons die “sniper” geweer gebruik. In so ‘n doelgerigte struktuur is die gesondheid en versorging van die ooie net in ‘n ander klas as met krale wat gedurig skoongemaak moet word.

Soos altyd gaan ons nog steeds baie leer en ons skoolgeld betaal, maar hierdie is ‘n avontuur en ons omhels dit met ‘n passie.

Weens versoeke vir nog ‘n IntelliFarm™ sagteware bekendstellingsnaweek het ek dit goed gedink om dit te hou die naweek van die 19de en 20ste April. Gaste hoef nie by LANDRANI® te bly nie. Indien gaste by LANDRANI® wil bly sal die koste weer R5000 wees per paartjie. Dit sluit in alle etes en drankies. Indien u net wil bywoon gedurende die dag sal die koste R1200 wees per persoon.  Dit sluit in alles te drinke asook ‘n middag “snack” die Saterdag. Ek gaan bywoning egter moet beperk tot plaas en of kudde eienaars of hul direkte familie.

Druk gerus op hierdie skakel indien u belangstel of stuur my 'n privaat Whatsapp indien u die naweek wil bywoon.

Groete

Pieter

afAFR