As ek terug dink aan die eerste paar dae van "lockdown" onthou ek hoe ek probeer het om stratgië uit te werk om die reels te probeer omseil. Dit was aanvanklik ongelooflik om te dink mens mag net eenkeer per dag winkel toe gaan. Ons het maniere uitgewerk om selfs te draf, net om vinnig weer by die winkel in te glip. Ons het gedink ons "shopping days are over". Selfs om nie kantoor toe te mag gaan was aanvanklik angswekkend. En nou?

Checkers 60/60 motorfietsies jaag die hele wêreld vol. Mense koop huise en woon in dorpe of stede anders as waar hulle voorheen gewoon het, maar werk nog steeds vir dieselfde maatskappy.

Al wat gekort het was 'n "KOPSKUIF". Gedurende "lockdown" was daar heelwat sulke kopskuiwe. COVID het ons geforseer om anders dink.

Dit was soos gister wat van ons SPAR kliënte ons gedurende "lockdown" genader het om vir hulle 'n aanlyn platform te ontwikkel. Soos van julle seker weet behoort SPAR'e aan individue met eienaarskap baie verskillend van Pick & Pay en in totaliteit verskillend van Checkers. As gevolg van hierdie diverse eienaarskap en die manier hoe winkels onafhanklik funksioneer tot SPAR hoofkantoor, het die groep tydens COVID geen aanlyn platform gehad nie. Natuurlik was dit chaos by baie van hierdie winkels en aanvanklik het hulle bestellings geneem via Whatsapp. Om 'n lang storie kort te maak het een van ons maatskappye opgeeïndig om vir sekere van die winkels 'n aanlyn platform te ontwikkel. Die platform se naam is ShopStop en is nog steeds ingebruik deur van die SPAR winkels. Natuurlik het SPAR Suid-Afrika besef dat hulle nie verder sonder 'n aanlyn stelsel kon funksioneer nie en het toe 'n groot poging aangewend om so 'n platform te ontwikkel. SPAR2U is ontwikkel en word deur meeste van die winkels bedryf.

Ek lys 4 van die grootste voordele van aanlyn aankope:

Toeganklikheid
Die feit dat amper elke industrie hulself herposisioneer het vir aanlyn verkope het 'n nuwe wêreld van produkte beskikbaar gemaak. Vandag koop mens enige moontlike produk aanlyn. By Landrani wat 25km buitekant Oudtshoorn is lewer Takealot enige artikel af. Van kruideniersware vir die restaurant tot yskaste, stowe, meubels, ens. ALLES WORD AFGELEWER.

Veiligheid
Ek onthou die een jaar het ek en my vrou 'n Meatmaster veiling bygewoon by die Bloemfontein Skougronde. Ons het met die bakkie en sleepwa gery sodat ons die aankope kon huis toe ry na die veiling. Ek het daai jaar onder andere 'n baie mooi ram gekoop. Foto's was geneem en daar was groot opgewondenheid. Totdat ek by die bakkie kom en sien die ruit is stukkend. Twee Apple skootrekenaars, my vrou se handsak, ens. gesteel. Wat 'n antiklimaks was dit nie gewees nie. Ek persoonlik dink tweekeer voordat ek na 'n veiling gaan, want selfs met goeie sekuriteit was my naweek bederf.

Tuis Aflewering
Logistiek en die ry met 'n sleepwa is eintlik net 'n ergernis. Ons paaie raak al slegter en voertuie al hoe meer onpadwaardig. In die laaste maand het ek reeds 3 papwiele gekry. Net buitekant Ashton moes ek 'n band ruil in 37-grade. Met inkopies is dit baie minder moeite as die Checkers 60/60 motorfiets ons klokkie ly as wat ons Checkers toe moet ry.

Tydsbesparing
Met die Bloemfonteinveiling het ek vanaf George gery, en moes oorslaap omdat dit onmoontlik is om te ry, te koop en weer terug te ry in een dag. Dit het letterlik 3-dae inbeslag geneem.

So hoekom werk aanlyn verkope in die verbruiksartikel mark?

Die handelaars het dit reg gekry om genoeg vertroue te skep in die sisteem sodat die verbruiker gemaklik voel met die risiko's rondom 'n aanlyn transaksie.

Wat het hierdie te doen met skaapboerdery?

Wel, ek en my span programmeerders het kajuitraad gehou en besluit dat ons IntelliFarm™ data die vertroue aspek sal aanspreek en die ShopStop platform vir ons die perfekte toegang verleen tot die digitale wêreld. Deur om die twee te integreer het ons al die gereedskap om letterlik dit wat sedert COVID gebeur in die verbruiksartikel mark te dupliseer en aan te wend om van ons diere te verkoop. Natuurlik vervang dit nie ons sagte veiling strategie nie, ons gaan albei bedryf. Die sagte veiling, met sy digitale komponent, is vir groepe van 20 diere waar die aanlyn platform slegs 'n minimum vereiste vir aankoop van 5 diere gaan hê.

En so word die LANDRANI® Meatmasters "toep" gebore. 'n App waarop sekere van ons diere gaan verskyn vir verkope direk aan enige koper enige plek in Suid-Afrika. Net soos wat Checkers hulle motorfietsies en SPAR hulle karretjies het, het ons besluit om 'n afleweringsdiens beskikbaar te stel eenkeer per maand vanaf die Kaap tot in Pretoria. Natuurlik nie aflewering tot op die plaas, maar wel by sentrale punte op die roete.

Ons gaan poog om binne die volgende twee weke lewendig te gaan. En soos reeds genoem sal ons die platform uitbrei na IntelliFarm™ gebruikers sodra ons al ons skoolgeld betaal het.

Soos altyd sal ek julle op hoogte hou van ons vordering.

Groete

Pieter

afAFR