Wat moet in plek wees:

  • Maandelikse voorsiening
  • Beheer die genetika (kwaliteit)
  • Eie voerkraal
  • Self versnit en verpak
  • Bemarkingsplatform
  • Koelketting & distribusie netwerk
  • Samic registrasie en protokol
  • Stelsels om alles te bedryf

Maandelikse voorsiening

Indien ń produsent direk aan die eindverbruiker lammers wil verskaf kan dit nie op ń “nou-en-dan” basis geskied nie. Daar moet altyd lammers in produksie wees. DWS daar moet deurlopend gelam word.

Beheer die genetika (kwaliteit)

Om die kwaliteit te beheer kan mens nie lammers “left, right and center” inkoop nie. Ouderdom en groeipotensiaal van lammers is ń beperkende faktor as mens regtig eenvormige kwaliteit wil aanbied. In terme van Suid-Afrika se graderingstelsel bly ń lam ń lam totdat hy wissel. Dit kan selfs so oud as 14-maande wees. Lammers wat geslag word tussen ouderdom 3-5 maande se vleis is beduidend sagter en sappiger as lammers wat 10-11 maande oud is.

Eie voerkraal

Hierdie is noodsaaklik vir 2 redes. Die toevoeg van waarde asook beheer oor wat die lam eet. Verbruikers raak al hoe meer bewus van wat hulle eet. Ons het besluit om antibiotika, groei stimulant en ionivoor vry te gaan, met ń lae graan komponent. Dit is vir ons die goue middeweg tot n jong sappige lam maar tog nog steeds ń relatiewe “skoon” lam.

Self versnit en verpak

Soos julle seker weet is die lam mark geweldig kompeterend en tradisioneel word R/kg bemark. Woolworths het dit egter reggekry om ń nuwe premie mark te ontwikkel met verbeterde verpakking asook die persepsie van ń “skoon” lam. Alle verpakking moet dus dieselfde of beter wees as Woolworths s’n om in daai mark te kan kompeteer.

Bemarkingsplatform

Hierdie is tweeledig. Eerstens moet ń handelsmerk gebou word en tweedens moet daar ń gebruikersvriendelike aanlyn meganisme wees vir ń klant om maklik ń lam te kan koop. Ons het gekies om die Apple en Android mobiele toepassing roete te gaan. Verder is die vestiging van ń handelsmerk met die regte persona ń gespesialiseerde proses. ń Handelsmerk moet korrek geposisioneer word as mens wil kompeteer in ń premie mark. Die assosiasie moet “kwaliteit” instede van “prys” wees.

Koelketting & distribusie netwerk

Beurtkrag het die hele speelveld verander. As mens kwaliteit gedrewe is kan jy onder geen omstandighede jou koelketting toevertrou aan ń 3de party. Die risiko is net te groot. So die totale koelketting moet onder die eienaar van die handelsmerk se beheer wees. Vanaf slag totdat die voordeurklokkie gelui word. Dus moet die eienaar van die handelsmerk sy eie depots en voertuigvloot besit. Verbruikers moet toegang hê tot die verkoelingsdata van hul lam.

Samic registrasie en protokol

Wat maak die produk anders? Om te kompeteer in die premie lam mark moet die produk ń premie produk wees. Daar moet genoeg “unique selling points” wees om die verbruiker se kop te swaai na die produk. Ons glo dat “vertroue” die grootste rol gaan speel in die toekoms. Die “weet wat jy eet” beginsel. Die protokol moet dus absoluut geskep wees rondom “vertroue” en daarom is ń Samic registrasie voordelig. Die feit dat mens se produk geoudit word deur ń 3de party skep vertroue, tesame met data toegang vir die verbruiker tov die totale produksieproses.

Stelsels om alles te bedryf

Unieke stelsels word benodig om die proses te bestuur vandat die lam gebore word totdat hy by die voordeur afgelewer word. Veral as individuele naspeurbaarheid aangebied word aan die verbruiker. Behalwe vir “vanwaar af kom die lam” het die verbruiker toegang tot alle relevante data van die lam. Vanaf medisynes tot rantsoen. Uniek tot die lam wat bestel is. Sonder die regte tegnologie in plek, is dit onmoontlik om hierdie data aan die verbruiker beskikbaar te stel.

Ons antwoord?

Landrani Lamb Logo

Kyk gerus na die volgende skakels om te sien hoe ons dit doen:

  1. Ons protokol saamgevat in ons “4-Pillar Promise”
  2. Ons bemarkingsplatform
  3. Wat ons kliënt sien as hy sy QR kode op pakkie vleis “scan” met sy selfoon kamera (*Maak seker jy druk ook op: CLICK HERE FOR BREAKDOWN)
  4. Kort uitreksel van ons stelsel wat ons ontwikkel het onder die IntelliFarm™️ handelsmerk

Tans bedien ons net die Tuinroete asook Kaapse Wynland. Sodra ons goed gevestig is in hierdie twee “niche” mark areas brei ons uit na Gauteng en groter Kaapstad. Enige uitbreiding gaan gepaard met die uitbreiding van ons koelketting infrastruktuur.


Ek gaan voor einde 2023 ons 2024 kalender publiseer waarin ons ope-naweke gaan aanbied vir boere wat wil kom kyk hoe ons ń boerdery omskep het in ń besigheid.

Geseënde Kersfees en ń Voorspoedige Nuwejaar vir julle almal.

Groete
Pieter

afAFR